Genesis 1:31 is ‘n besondere vers:
“Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed.”
Wanneer dit “baie goed” is in God se oë, met sy Goddelike standaarde,
dan is dit bo-menslik goed in terme van wat ons kan sien of dink!
Ons het nie eers naastenby ‘n idee hoe goed God regtig die skepping gemaak het nie!
Ons krap met ons waarneming en kennis maar nog aan die oppervlakte.
Ons beoordeel en werk nog met die buitenste lagie van die skepping.
Ons het nog soveel om te ontdek van wat God alles gemaak het!

Gepraat van buitenste lagie…..
Voor ‘n kerk in Europa was ‘n beeld van die Madonna.
Dit het bekend gestaan as die “Lelike Madonna”.
Dit was nie ‘n baie goeie en mooi beeld nie.
Vader Camillo het aan maniere gedink hoe om daarvan ontslae te raak.
Die gemeente wou niks weet nie,
aangesien die beeld uit die Middeleeue dateer het.
Hierdie beeld, bekend as die Lelike Madonna, moes bly staan.
Met die jaarlikste dorpsfees het Camillo sy kans gesien.
Die beeld is elke jaar met die fees op ‘n vragmotor gelaai,
en deur die dorp se strate gekarwei.
Hy het besluit om die beeld nie goed vas te maak nie,
en die slegte strate uit te kies.
So het die beeld uiteindelik afgeval, en, ironies genoeg, voor die kerk!
Maar in plaas van skok het die gemeente jubelend uitgeroep:
“Dit is ‘n wonderwerk! Dit is ‘n wonderwerk!”
Camillo het dadelik van die vragmotor afgeklim om te kyk.
Die “Lelike Madonna” was al die tyd ‘n beskermingsfoefie!
Dit was ‘n buitenste laag van klei,
om te keer dat die beelddiewe in die Middeleeue die beeld sou steel!
Toe die beeld van die vragmotor afval,
het die buitenste laag van klei aan skerwe gespat, en oral rondgelê.
Onder dit was ‘n treffende beeld van Madonna in egte silwer!
Asemrowend mooi!

Camillo het verbaas en oorweldig daar gestaan.
Hy het besef God praat met hom!
Hy het daardie Sondag gepreek oor Genesis 1:31:
“Toe het God gekyk na alles wat hy gemaak het, en dit was baie goed.”
Hy het vertel hoe elke mens ‘n laag aan die buitekant het,
en hoe ons nie mekaar moet beoordeel en veroordeel nie.
Hoe ons vooroordele afgebreek moet word.
Hoe ons God se skepping in elkeen moet ontdek.
En hoe ons ook moet besef:
God is ook nog steeds besig met sy skepping,
in elkeen, en veral in mý.

Ernest