Matteus 5:14 sê:
“Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê,
kan nie weggesteek word nie.”
The Word on the Street vertaal dit so:
“You guys make the world visible. You bring light.
You can’t camouflage a fireworks display.”
Daar was eeue gelede ‘n koning in Oostenryk
wat vir sy onderdane ‘n nuwe kerk gebou het.
Dit was ‘n waarlik besondere kerk om in te aanbid.
Met die inwyding van die kerk,
het die onderdane oorgeloop van vreugde en dank!
Die dogter van die koning het hom egter daarop gewys
dat die kerk nie lampe het nie!
Toe wys die koning na die lamphouers oral teen die mure.
Hy het opgestaan en vir die kerkgangers gesê
elkeen sal sy eie lig moet saambring.
Terwyl die diens aan die gang is moet hulle hul brandende lampe
op die lamphouers teen die mure plaas.
So sal hulle die kerk verlig,
net soos hulle die omgewing verlig het, op pad kerk toe!
Wanneer iemand nie kerk toe kom nie,
sal sy deel teen die muur nie verlig wees nie,
en ook nie die omgewing waarlangs hy moes kom na die kerk toe nie.
Die koning het afgesluit met die woorde:
“Onthou julle?,..Jesus het gesê julle is die lig vir die wêreld!”
So het die kerk sedert inwyding bekend gestaan as die “Kerk van die Lig”.
Jy is die lig vir die wêreld!
Nie net binne in die kerk nie,
maar ook op pad na die kerk,
en veral ook weer ná kerk, op pad in die wêreld in!
Die Grieke het ‘n unieke wedloop gehad tydens die Olimpiese spele.
Die wenner was nie die een wat eerste gekom het nie.
Die wenner was die een wat dit kon regkry om die eindstreep te haal,
terwyl sy fakkel nog steeds gebrand het!
Laat jou lig elke tree van jou lewenswedloop skyn!
Ernest