Jesus sê sy volgelinge ís die lig vir die wêreld.
Hy sê nie hulle moet een of ander tyd lig word nie.
Ons is die lig vir die wêreld.

Dit is iets van die beeld van ‘n gloeilamp.
‘n Gloeilamp kán skyn.
Maar hy skyn nie noodwendig nie.
Hy moet aangeskakel wees.
Ingeskakel by die bron van krag.
So moet ons ingeskakel wees,
en aangeskakel wees by ons Bron.
Niemand praat ook oor die gloeilamp nie.
Maar almal praat oor die lig! Of die donkerte….
Dieselfde geld oor ons.
Mense moet vir God, die Lig, sien en oor Hom praat!

Die tragiese is dat die moontlikheid bestaan,
dat jy die lig kan wegsteek, volgens Matteus 5:14-15.
Dat jou lig afgeskakel is.
Dalk is jy bang vir teenstand.
Skaam om te getuig oor jou lig-Bron.
Moenie bang wees nie!

Iemand het hierdie waar woord gesê:
“If you don’t run into Satan at times,
you must be going the same way!”
Ons is lig en ons moet die duisternis verdryf!
Daarom vertaal The Message Matteus 5:14 so treffend:
“You’re here to be light, bringing out the God-colours in the world.
God is not a secret to be kept. We’re going public with this!”

Amy Grant, die gospelsangeres, het oor die kalklig gesê:
“Some people think I should stand in the light and give my witness.
But I believe God has called me to stand in the dark,
and there give off His light!”
Is jy ingeskakel by jou Bron van krag, en aangeskakel?
Laat jy jou lig in die duisternis skyn!?

Ernest