Spreuke 12:25 sê;
“Bekommernis druk ‘n mens neer;
‘n vriendelike woord vrolik hom op.”

Die grootste tyd-dief is bekommernis.
Die Bybel leer ons dat ons nie moet toelaat dat
bekommernis ons lewe beïnvloed nie!

Ons dra dikwels ons bekommernisse saam met ons rond,
asof ons God nie vertrou om daarmee klaar te speel nie.
Soos die twee priesters wat ‘n mooi meisie in ‘n mooi rok raakgeloop het.
Sy wou oor ‘n modderige stroompie,
maar het nie geweet hoe om haar rok in die proses skoon te hou nie.
Die een priester tel haar toe op en dra haar oor die stroompie.
Die ander priester het net stilgebly.
Toe hulle by die klooster kom het hy begin praat,
oor sy mede priester wat ‘n mooi meisie oor ‘n stroompie gedra het.
Hy weet mos hulle moet wegbly van mooi vroue af!
Die priester wat die meisie gedra het se antwoord was:
“Ek het die meisie daar neergesit en haar daar gelos.
Maar dit voel vir my jý dra haar nog steeds.”

Dit is wat ons ook doen.
Ons gee ons bekommernisse vir die Here, maar ons los dit nie by Hom nie.
Ons dra dit nog steeds saam. Ons vermors so baie energie!
Die gemiddelde persoon se bekommernis is gefokus op:
40% van wat nooit sal gebeur nie,
30% oor die verlede wat nie kan verander nie,
12% oor die kritiek van ander, meestal onwaar,
en 8% op egte probleme wat ons in die gesig staar,
en waaraan ons iets kan doen!
“Worry is wasting today’s time,
by cluttering tomorrow’s opportunities,
with yesterday’s troubles.”

Die mense in Swede het ‘n spreekwoord:
“Bekommernis gee dikwels aan ‘n klein dingetjie ‘n groot skaduwee.”
George Müller het gesê:
“Die begin van bekommernis is die einde van geloof.
Die begin van geloof is die einde van bekommernis.”
Wat gaan jy kies?

Geen wonder nie dat Jesus self in Lukas 12:26 vra:
“Waarom bekommer julle julle?”

Ernest