Jesaja 41:13 sê hierdie treffende woord:
“Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou:
Moenie bang wees nie, Ek help jou.”

Eugene Peterson het as seuntjie altyd uitgeloop na ‘n plaas buite die dorp.
Die groot trekkers het hom beïndruk.
Leonard Strom, die boer, het hom eendag,
met gróót geswaai van die hande nadergeroep.
Eugene het gedink die boer jaag hom weg, en het huistoe gehardloop.
Die Sondag by die kerk het die boer hom gevra waarom hy weggehardloop het.
Eugene het gesê hy dog die oom jaag hom weg.
“Nee, ek het jou geroep om saam op die trekker te kom ploeg!”,het Leonard gesê.
“Wat doen jy as jy iemand roep?”, wou hy by die seuntjie hoor.
“Ek roep hom so met my voorste vinger”, het die seun gesê.
“Dit is te klein!! Op die plaas doen ons dinge gróót!!”, het die boer hard uitgeroep.
‘n Paar dae later was Eugene weer plaas toe .
Toe die boer hom met groot gebare roep,
hardloop hy, spring op sy skoot, en ploeg saam.
Sy kleinheid het verdwyn in die boer en trekker se grootheid.
Aan die einde van die dag het Eugene selfvoldaan vir die boer gesê:
“Ons het lang reguit rye geploeg.”

Saam met God ploeg ons ook sulke lang reguit rye!
Dit is God wat dit doen, en ons wat opgaan in sy grootheid.
Hy is die Here ons God.
Hy vat ons hand.
Hy sê vir ons: moenie bang wees nie.
Hy help ons.
En ons,….ploeg saam met Hóm!

Ernest