Prediker 5:6 sê:
“Daar is baie drome, baie wat tot niks kom nie,
ook baie woorde. Maar dien jý vir God.”

Wanneer jy klein is droom jy baie oor wat jy eendag wil word.
Sommige word deur die jare meer as wat hulle gedroom het,
en ander word minder as wat hulle gedroom het.

Wat is die verskil?
Prediker sê dit lê by jou verhouding met God.
Ons is bang om ons ten volle aan God oor te gee.
Sê nou net Hy vra iets wat ons nie bereid is om te gee nie.
Ons wil sukses behaal en voluit vir die Here lewe.
Maar ons wil dit op ons eie voorwaardes doen.
As ons so dink,
sal ons nooit tot die volle potensiaal lewe wat God vir ons bedoel nie.

Larry Crabb sê:
“Om goed te voel het vir ons baie belangriker geword as om God te ontmoet.
Ons moet die vraag vra: Lewe ons net, of wandel ons saam met God?”

Ons moet dissipels van Jesus wees.
As iemand vir jou sou vra:
“Waarheen is jy op pad?, wat sou jy antwoord?
Sou jy kon sê: “Ek leef agter Jesus aan”?
Sören Kierkegaard het gesê:
“Daar was ‘n tyd toe ‘n mens so halfbang was om te sê jy is ‘n dissipel van Jesus.
Dit het só baie beteken dat jy mooi daaroor gedink het voor jy dit sê.
Nou sê ons dit so maklik want dit beteken dikwels hoegenaamd niks nie.”
Ons moet opnuut besef wat dit beteken om dissipel van die Here te wees.

Verloor jouself en word die mens in Christus wat Hy bedoel jy moet wees.
Neem die kruis op wat Hy wil hê jý moet dra.
Hy sal jou seën soos jy nooit gedink het moontlik is nie!
Sê volkome “ja!” vir God, en leef méér as jou wildste drome!

Ernest