Ons sien maklik verwaandheid by ander mense raak,
maar mis dit by onsself omdat ons dink dit is bloot ons sterk oortuigings.
Ons versteek maklik arrogansie sonder om dit selfs te besef.
Vra maar vir Paulus!
Hy vertel in Filippense 3:4-6 hoe hy verblind was,
deur sy eie behoefte aan uiterlike vroomheid en geestelike prestasie.
Juis dit wat vir ander so indrukwekkend gelyk het.
Hy vertel hoe belangrik sy afkoms as Jood vir hom was,
en hoe onberispelik hy was in die onderhouding van die wet.
Hy was ‘n super-godsdienstige!
Hy het alle godsdienstige toetse met onderskeiding geslaag.
Toe loop hy homself vas in die opgestane Jesus Christus.
En daarmee loop hy homself terselfdertyd vas teen sy eie arrogansie.
Hy het besef dat hy met sy godsdienstigheid en al verstik aan verwaandheid.
Sy uiterlike vroomheid het hom laat neerkyk
op almal wat nie so godsdienstig soos hy was nie.
Hy het mense gehaat wat nie soos hy geglo het nie en hulle vervolg.
Hoe groot kan ons nie in ons eie oë raak nie!
Dat ons dink net ons is reg en het alles van die waarheid beet.
Selfs die van ons wat al jare lank die Here volg,
kan dieselfde fout as Paulus maak.
Wanneer jy elke dag die Here in die oë kyk, soos met Paulus gebeur het,
dan stroop Hy jou van diepgewortelde arrogansie
waarvan jy nie eers bewus was nie.
Dan draai die wêreld nie meer om jou nie.
“Wat eers vir my ‘n bate was,
beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus.” – Fil. 3:7.
Laat toe dat die Gees jou daagliks transformeer.
Ernest