Kolossense 3:2 sê:
“Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is.”

Live sing ‘n wonderlike lied met die naam “Heaven”.
Dit maak die punt dat jy die hemel kan beleef in dit wat rondom jou is.
Daar is soveel dinge in die lewe wat soos ‘n venster op die hemel is.
As jy mooi kyk, sien jy die Here in die alledaagse raak.
So ontdek jy keer op keer hemelse oomblikke.
Jy beleef hierdie oomblikke deur die Gees in jou, wat jou op God rig.
Daarom sê Kolossense ook,
dat ons ons gedagtes moet rig op die dinge wat daarbo is.

Live sing in die liedjie “Heaven”,
dat ons niemand nodig het om ons van die hemel te vertel nie.
Hulle sing dat jy na jou kinders moet kyk, en jy sal glo.
Jy sal die hemel in hulle sien.
Hulle sing dat jy geen bewyse nodig het dat God bestaan nie.
Hulle sing dat jy net na die sonsondergang moet kyk, en jy sal weet.
Hierdie liedjie maak jou oë oop vir God se wêreld.

Henry David Thoreau het gesê:
“Heaven is under our feet as well as over our heads.”

Laat jou oë oopgaan vir God se wêreld rondom jou!
Rig regtig jou gedagtes op die dinge wat daarbo is!
En jy, en mense rondom jou, sal hemel op aarde beleef!

Ernest