Wanneer mense val, staan hulle weer op.
Wanneer jy agterkom jy het die verkeerde pad gekies,
draai jy na die regte pad om jou bestemming te bereik.
Die vraag is hoekom ons dit dikwels nie doen wanneer God met ons praat nie?
Ons hoor en sien by Hom dat ons op die verkeerde pad is, maar hou vol daarmee.
Dit sien ons ook in Jeremia met die volk wat nie na die Here wil luister nie.
In Jeremia 8:6 sê die Here oor hul optrede:
“Ek het goed geluister en Ek het gehoor dat hulle nie die waarheid praat nie,
niemand het berou oor hulle sonde nie, niemand sê:
“Wat het ek tog gedoen!” nie.
Elkeen breek met vaart van My af weg soos ‘n perd uit ‘n geveg wegstorm.”
Hierdie mense ignoreer eenvoudig wat die Here sê.
Hy sê vir hulle dat hulle op die verkeerde pad is, maar hulle luister nie.
God luister na die dinge wat hulle tussen hulleself sê.
Maar Hy hoor niks van berou in hulle gesprekke nie.
Hulle het eenvoudig geen berou oor hulle sonde nie.
“Elkeen breek met vaart van My af weg soos ‘n perd uit ‘n geveg wegstorm.”
Dit beklemtoon hulle weerstand en ongehoorsaamheid teenoor die Here.
Vers 7 gebruik die beeld en sê die trekooievaar, die tortelduif, die swaeltjie
en die kraanvoël tree almal op volgens God se plan en natuurwette, en luister na Hom.
Maar God se volk met wie Hy ‘n verbond het, aanvaar lankal nie meer sy gesag nie.
Hulle laat weerklink die leuen van vers 8 oor hulle land:
“Ons het wysheid, ons het die wet van die Here by ons.”
Hulle dink dit gaan goed met hulle en die Here omdat hulle gemaklik hul eie wil doen.
Daarom, sê die Here, sal Hy by hierdie mense aankom soos die Eienaar wat vrugte
aan die wingerdstok en die vyeboom soek.
Vrugte wat by die bekering en ‘n verhouding met die Here pas.
En wanneer Hy nie vrug kry nie, sal Hy die wingerdstok en vyeboom nie spaar nie.
Uiteindelik het dit gebeur, met tragiese gevolge vir die volk.
Hulle is in ballingskap weggevoer.
Vandag praat dit met my oor my persoonlike verhouding met die Here.
Luister ek na Hom?
Meer nog: Doen ek regtig sy wil.
Hoe gemaklik sê ek ook maar:
”Ek het wysheid. Ek het die Here by my.”
Maar ek leef voort in eiewysheid.
Vraag is of ek, soos die volk, mý wil uitleef,
en of ek inderdaad die Here se wil uitleef?
Ernest