Die gelykenis van die ryk dwaas praat met ons almal,
nie net met mense wat in ons oë “ryk” is nie.
Daarom sê Jesus in Lukas 12:15:
“Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid,
want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed
van sy besittings nie.”
Selfs ‘n arm mens kan ook gierig wees.
Lees Lukas 12:16-21 en kyk net hoeveel keer die woordjie “ek” voorkom.
Tel ook hoeveel keer die woordjie “my” voorkom.
Die man dink heeltyd by homself.
Hy vra nie na die Here se wil nie.
Dan beplan hy ook by homself.
En uiteindelik sê hy selfvoldaan vir homself:
“Dan sal ek vir mysélf sê…”
Kyk net hoeveel keer kom die Here se Naam ter sprake….
Ons almal leef en beplan vir ons daaglikse lewe aan hierdie kant van die graf.
Hierdie man het dit ook deeglik gedoen.
Ons moet inderdaad daarvoor beplan.
In hierdie opsig is die man van die gelykenis verstandig.
Hy was ook baie suksesvol.
Maar hy gee nie aan God die eer en erkenning wat God toekom nie.
Alles draai om homself en “selfgemaakte” sukses.
Ons beplan egter, en leef ook nie net vir die lewe aan hierdie kant van die graf nie.
Hierdie man vergeet van die onsterflikheid van die siel.
Elkeen is in die hiernamaals,… iewers!
Om nie vir jou ewige doel te leef nie is ‘n fatale fout.
Om net met jou eie ek beïndruk te wees,
en daarmee saam te leef is vernietigend.
Niemand leef langer op aarde as jou aardse dood nie….
Waarvoor is ons hier?
Vir jouself?
Ons is net hier vir God en vir ander mense.
Wat is die grootste kruisiging wat in jou moet plaasvind?
Jou aardse “ek” moet gekruisig word, deur jouself!
En jy kruisig jouself om vir God te leef.
Die voornaamwoord “ek”, en die besitlike voornaamwoord “my” goed,
moet gekruisig word.
Ek, en mý ek, waarheen is “ons” op pad?
Is “ek” en “my” al gekruisig?
Of leef ek soos ‘n dwaas voort,
met al “my” goed?
Ernest