Water was een van die kosbaarste dinge in die lewe van die Israeliete.
En ‘n waterput was een van die kosbaarste besittings van ‘n gesin en familie.
Om water uit iemand anders se put te steel was ‘n misdaad.
Net so was dit ‘n misdaad om iemand anders se vrou of man te neem.
Daarom gebruik Spreuke 5:15-16 hierdie beeld as dit oor die huwelik praat:
“Drink die strome uit jou eie fontein.
Moet jou fonteine dan ook die wêreld vol loop,
jou strome water oral heen vloei?”
Moenie skelm uit iemand anders se fontein drink nie.
Moenie water uit sy “put” steel nie!
Die getroude man of vrou op wie jy soos ‘n skelm jou hart verloor,
is die kosbaarste gawe van God aan ‘n bestaande huweliksmaat.
Of ook ‘n kosbare ouer, van ‘n kind in daardie gesin.
Vra ook ten opsigte van jou eie huwelik:
Is daar vars en heerlike water in ons fontein?
Kan ons, soos die Woord sê,
die liefkosings van ons eie huweliksmaats ten volle geniet?
Gee ons mekaar die liefde wat ons na mekaar getrek het?
Vervul ek die rol wat die Here my hierin gegee het?
Ons lewe lê oop en bloot voor die Here.
Gaan leef in die skuldvrye huweliksvreugde wat Hy jou gee.
Huweliksvreugde en huweliksgroei was hoegenaamd nie uitgesluit
toe Hy in Johannes 10:10 gesê het “Ek het gekom,
sodat julle die lewe kan hê, en dit in oorvloed” nie.
Ernest