Hou jou woord
“Miswolke en wind, maar geen reën nie,
so is iemand wat spog met wat hy sal gee en die nooit gee nie.”
Spreuke 25:14.
Jou betroubaarheid moet ononderhandelbaar wees.
Jy moet juis nie soos miswolke, wind, en stofstorm wees,
maar geen reën bring nie.
Jou geloftes aan God,
en jou beloftes aan mense,
moenie ydele woorde wees nie.
Dit is deel van die waarheidslewe van geloof.
Deut. 23:21 sê “wanneer jy ‘n gelofte aflê teenoor die Here jou God,
moet jy nie traag wees om dit na te kom nie……”
Psalm 15:4 sê ook jy moet jou woord hou, selfs tot jou eie skade.
Ons word dikwels self ontnugter deur leë beloftes wat mense teenoor ons maak.
Hol woorde wat ons vertroue in mense skade berokken.
Nou is die probleem dat ons self ook so begin optree.
Ons dink mense raak maar gewoond daaraan in ons samelewing.
My woord is nie meer my eer nie,
en dit eer ook nie meer die Here nie!
Ek gee self nie meer om of ek absoluut betroubaar wil wees nie.
Die gevolg is dat die Naam van die Here skade ly!
Ek staan bekend as ‘n volgeling van Jesus,
wat wil leef soos Jesus leef!
Wanneer ek onbetroubaar raak,
“koop” die wêreld nie meer die Christelike geloof nie.
Die Christelike getuienis, wat die Naam van die Here dra,
word ‘n onbetroubare getuienis vir die wêreld.
Hou jou woord.
Die Here se Naam is op die spel!
Ernest