Die meeste van ons kyk op ‘n swart-wit manier na ons geestelike lewe.
Daarom sien ons dikwels eenvoudig ‘n swakheid as ‘n sonde.
Ons dink swart gedrag is sondige gedrag,
en wit gedrag is rein en heilige gedrag.
En swakhede word eenvoudig by swart gedrag ingedeel.

Die verskil tussen sondige gedrag en swakhede,
word duidelik wanneer ons sien hoe die Here ten opsigte van albei reageer.
Die Here haat en veroordeel sonde.
Maar Hy het medelye met ons swakhede.
Hy eis dat ons met die sonde moet breek.
Maar hy laat ons soms lewenslank met ons swakhede saamleef.
Dink maar aan die doring in Paulus se vlees.
Dan verseker hy ons, soos vir Paulus,
dat sy genade vir ons genoeg is.

Paulus is ook “ter wille van Christus” bly oor swakhede.
2 Kor. 12:9 sê die Here se antwoord aan Paulus was:
“My genade is vir jou genoeg.
My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”
Daarop sê Paulus:
“Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem,
sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.”
En vers 10: “…want as ek swak is,is ek sterk.”

Paulus weet ook dat swakhede ‘n hindernis kan word,
ten opsigte van sy bruikbaarheid in die koninkryk van God.
Ons soek steeds hulp en oorwinning by die Here,
ten opsigte van ons swakheid.
En dan ontdek ons dat die Here medelye het daarmee,
en ons ook ten spyte daarvan gebruik.

Heb. 4:15 sê: “Die Hoëpriester wat ons het,
is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie.”

Die Here help jou met jou swakhede.
Gemoedswakhede, genetiese swakhede,
bagasie uit jou kinderdae of verhoudings,
wonde wat nog nie gesond is nie….
Die dinge is nie eenvoudig jou sondes nie.
God sal jou met jou swakhede en al tot sy eer gebruik.
Gee volkome oor aan Hom.

Hy is nie Een wat geen medelye met jou swakhede het nie.

Ernest