Wanneer Jesus na die wêreld kom, dan sê die Vader in Matt. 3:17:
“Dit is My geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek my.”

‘n Treffende fliek oor ‘n kinderhospitaal en kinderhuis is “Cider House Rules”.
Dit speel af in St. Clouds in die plattelandse Maine.
Die dokter in beheer het ‘n deernis vir elke weeskind in die huis.
Hy besef een van hul heel grootste probleme waarmee hulle worstel,
is dat hulle identiteitloos is.
Hulle voel verwerp, verstote, vergete en betekenisloos.
Hy het elke nag, voor hulle gaan slaap het,
vir hulle ‘n hoofstuk gelees uit een van Charles Dickens se boeke.
Dan het hy hulle gegroet met:
“Good night, you princes of Maine, you kings of New England.”

Die kinders het nie regtig geweet waaroor dit gaan nie,
maar soos die tyd gevorder het, het sy woorde al hoe meer by hulle ingesink.
Hulle het ‘n gevoel van identiteit en geborgenheid begin ervaar.
Hulle is nie net vergete mensies nie.
Hulle is prinse en konings.

Om te weet wie jy is, is baie belangrik.
Matteus 3:17 is nie net op Jesus van toepassing nie.
Wanneer ons in Hom weergebore word,
is ons ook familie van die Vader.
Sy kinders in wie Hy ‘n welbehae het.
Sy kinders oor wie Hy Hom verheug.
Dit is van toepassing op elke kind van God.
Dit is die belangrikste wat jy ooit oor jouself kan hoor.
Dit gee sin aan jou hele lewe.

Hoor dit as die Here vandag vir jou sê:
“Jy is My geliefde kind. Oor jou verheug Ek My.”

Ernest