“Here, U sien dwarsdeur my, U ken my”, sê Psalm 139:1.
Wanneer jy vir die Here leef, is dit ‘n wonderlike wete!
Wanneer jy nie vir Hom leef nie, is dit skrikwekkend.
John Grisham het ‘n blitsverkoper geskryf met die titel “The Firm”.
Daar is ook ‘n fliek hieroor gemaak waarin Tom Cruise die hoofrol speel.
Dit gaan oor die jong Mitch McDeere wat as jong prokureur werk.
Stelselmatig ontdek hy dat die firma alles van hom weet!
“The Firm” luister hom af, en agtervolg hom.
Hulle sien alles van hom.
Hulle versteek videokameras in sy huis.
Hulle hou hom en sy vrou gedurig dop.
Dit is vir hom skrikwekkend dat hulle alles van hom weet.
Die fliek verloop en eindig baie spannend.
Dawid praat in Psalm 139 ook van Iemand wat alles van hom weet.
Maar, anders as met Mitch McDeere, is Dawid vol vreugde hieroor.
Vir hom is God nie soos ‘n firma wat hom dophou nie.
God is vir hom ‘n alomteenwoordige Vader wat versorgend betrokke is.
Goddank!....dat Hy alles van hom weet!
Hierdie Vader van ons is alwetend sê Psalm 139:1-6.
Hy weet regtig absoluut alles van my.
Ons kan niks vir Hom wegsteek nie.
Mitch McDeere kon “The Firm” uitoorlê,
omdat hulle een ding van hom nie geken het nie.
Hulle kon nie sy gedagtes lees nie.
Maar God ken selfs my gedagtes!
Psalm 139:2 sê:
“…U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.”
God weet presies alles wat in my lewe aangaan.
Maar vir ‘n kind van die Here is dit so bevrydend.
Ek hoef nooit nuus te breek by God nie.
Ek kan met soveel vrymoedigheid met Hom praat oor alles.
Hy weet reeds hoe ek dink, en voel, en leef.
Hy weet wat ek nodig het, nog voor ek dit weet of vra.
Ek kan so deursigtig en op my gemak voor Hom leef.
So sonder pretensie.
Hoe bevrydend maak Hy dit nie vir my nie, saam met Hom!
Hoe bevrydend!
Ernest