Ligvoetse Christenskap maak maklik van die Here Jesus
‘n “liewe Jesus” Kerskaartjie-figuur.
Die Here is nie daar om net geskenke uit te deel, en ons te laat goed voel nie.
Die lewe kan inderdaad vir gelowiges baie hard wees.
God is nie daar om die lewe vir ons makliker, geriefliker, en lekkerder te maak nie.
Indien dit wel gebeur is dit net genade.
God is nie by ons om ons eie idee van “die goeie lewe” waar te maak nie.
Geloof is nie ‘n geestelike lotto wat moet sorg dat die nommers vir ons reg val nie.

Die merkwaardige is dat geloof, vir mense in die Bybel wat in God se wil geleef het,
eerder van maklik na moeilik beweeg het, as andersom.
Jeremia en Paulus byvoorbeeld.
Oor Paulus skryf Handelinge 16:23:
“Nadat hulle baie geslaan is, is hulle in die tronk gegooi,
en die bewaarder het opdrag gekry om hulle streng te bewaak.”
Hulle lewe was vol opoffering en lyding.

Daar is nie kitsoplossings, kortpaadjies of ontsnaproetes
vir kinders van die Here in hierdie wêreld nie.
Hulle het geweet die lewe is soms baie hard.
Paulus was in tronke en Jeremia loop 40 jaar hardepad as verguisde profeet.

Al beleef hulle wonderwerke,
was hul geloof nie ‘n towerstaf wat probleme laat verdwyn nie.
Hulle krag was geleë in die feit dat die Here hulle hele lewe geword het.
Hulle omstandighede was nie vir hulle bepalend
oor God se nabyheid nie.

Kersfees het sy eie unieke romantiek.
Maar Kersfees bring ook die realiteit van Christenskap.
Jesus het na die wêreld gekom om te ly en te sterf.
Vir Sy saak en koninkryk, en vir die Vader,
loop ons in sy voetspore.

Ernest