God by ons, wat met Kersfees plaasgevind het,
sou ook God word wat vrywillig weggaan.
Jesus het geweet Hy is gebore, om uiteindelik aan die kruis te sterwe…
Daarom sê Johannes 18:4-5:
“Omdat Jesus geweet het van alles wat oor Hom gaan kom,
het Hy vorentoe gekom en vir hulle gevra:
“Vir wie soek julle?”
“Jesus van Nasaret”, antwoord hulle Hom.
“Dit is Ek!”, sê Hy toe vir hulle.”
Die Kind in die krip, sou die man aan die kruis word. Bewustelik.
Jesus is nie oorrompel, en uiteindelik, na baie pogings,
gevange geneem nie.
In Johannes 12:28 sê Hy dit is juis waarvoor Hy na die wêreld gekom het!
“Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur.
Vader, verheerlik U Naam”.
Daarom sê Jesus:
“Dit is Ek.”
Vir hierdie uur is Hy gebore, en het Hy geleef!
Van die begin af sou dit hierop afstuur.
Wanneer Jesus in Getsemane votentoe kom,
kom Hy om alles van ons op Hom te neem, en ons vry te maak!
“Dit is Ek”, sê Jesus.
Daar is geen ander naam waardeur redding sou kom nie.
Ons kan die misterie van Jesus se koms na die wêreld,
om gekruisig te word, nie regtig ontrafel nie.
God kom in ‘n krip en sterf aan ‘n kruis….
Ons kan slegs besef dat dit vir elkeen van ons gedoen is.
Ons kan dit in geloof aangryp en om-arm.
Ons kan maar net gaan lééf,
soos mense wat deur hierdie misterie,
uit die kloue van die dood gered is!
Ernest