Jy sal later verstaan…of sal jy?

Baie dinge het in hierdie jaar met jou gebeur.
Party dinge was goed, en ander sleg.
En vir baie mense het daar sommer baie slegte dinge gebeur.
Al was hulle, en is hulle steeds gelowiges.

Mense sê maklik:
“Jy sal later verstaan.”
Ons sê dit veral vir mekaar wanneer iemand swaarkry.
Ons dink ons moet, en wil dan een of ander vorm van troos aanbied.
Ons sê ook sommer by dit alles, dat alles met ‘n doel gebeur.
Ons linker-breine dink ons móét begryp hoekom ons ly.
As dit dan nie noú is nie, sal ons later wel begryp.
Ons dink ook as ons een of ander tyd begryp, ons tot rus sal kom.

Wel, die punt is:
God skuld ons geen verduidelikings nie.
Hy sê ook nie dat ons later sal verstaan nie.
Hy bêre nie maar vir een of ander rede die antwoord nie.
Hoekom nie?
Die rede is dat slegte gebeure wat ons tref,
nie doelbewus beplande gebeure uit die hemel is,
om ons ‘n paar lesse te leer nie.

God se antwoord op swaarkry en slegte dinge wat ons tref,
is dat Hy Hom laat vind,
deur elkeen wat ernstig aanhou soek na Hom, in hulle nood.
Hy skryf ook nie mense af wat verwytend na Hom opkyk in hul krisisse nie.
God het nie sy rug op Job gedraai toe hy met al sy vrae na Hom gekom het nie.
Maar Job het nie weggeloop van God af nie.
Hy sê vir God:
“Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie:
U wonderdade was te groot vir my,
Ek het dit nie verstaan nie.” – Job 42:3
Hy het juis al worstelend, en sonder om te begryp, nader beweeg aan God.
Hy het vir God gesê hy maak nie sin uit van God in sy omstandighede nie!
God laat Hom vind deur sulke soekers na Hom.
En Hy gee nie noodwendig begrip en antwoorde nie.
Maar Hy openbaar sy liefdeshart en almag in dit alles.

Kyk so terug op hierdie jaar.
En groei na God se hart toe,
en hou vas aan sy almag,
eerder as om te probeer begryp,
en antwoorde van Hom te verwag.

Ernest