Hoe eindig die jaar vir jou?
In ons almal se lewens is daar die voorheen en die nou.
Dit van die jaar wat verby is, is nou die voorheen.
En hier aan die einde van die jaar,
met die nuwe jaar wat al op ‘n skrefie oopgestoot word,
wil ons konsentreer op die nóú.

“Julle gees en gedagtes moet nuut word”, sê Paulus.
“Lewe as nuwe mense wat na die beeld van God geskep is;
Lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.”
Efesiërs 4:23-24.

En so sien ons die volmaakte sirkel wat God voltooi.
Met soveel oneindige lyding het God dit van sy kant getrek.
Die skepping, sondeval, herskepping….

Heel aan die begin het God die droom vir ons gehad:
“Kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld.”
Hoe het ons nie met ons keuse,
om self God te wil wees, ‘n streep daardeur getrek nie!
Liefdeloos vir God van ons af weggestoot.
God het, as gevolg van sy wese, Wie hy is,
volmaaktheid wéér volmaak kom maak!
In Jesus Christus kom herskep Hy weer!
Dit het Hom ondenkbare lyding,
en die langste pad van herwinning gekos!
In sy Vaderhart van liefde, sou Hy sy eiendom wéér opeis.

Nou moet ons dit met ons lewe beantwoord.
Om dit wat God vir ons gedoen het,
te beantwoord met ‘n lewe van oorgawe aan Hom,
dankbaarheid en toewyding.
So sal die sirkel waarvoor God so duur betaal het,
nie weer in ons lewe verbreek word nie.

Ons is geskep deur ons Vader,
en deur Hom herskep in Jesus Christus,
en leef deur die Gees toegewy aan Hom.
Kyk terug op Sy trou in jou lewe,
en vorentoe met verwagting,
en jou oog gerig op Hom!

Ernest