Die een onlosmaaklik van die ander.
Oujaar en nuwejaar.
Oujaar laat jou terugkyk.
Nuwejaar laat jou vorentoe kyk.
En ons kan weet: ons God is die God van die toekoms!
Ons God maak ‘n nuwe toekoms!
Hy staan gereed om dit te laat aanbreek.
Sy nuwe wêreld is op hande.
Openbaring 21:1:
“Toe het ek ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien….”
Sy wil is dat ons almal wat aan Christus behoort,
daar by Hom in sy ewige heerlikheid sal wees.
Hy self sal daarvoor sorg.

Hier gaan ons nie vir altyd leef nie.
Jare kom en gaan.
Maar daar sal die ewige tyd bly staan.
Hier gaan ons, in die nuwe jaar,
ons steeds teen sonde vasloop.
Daar nie.
Hier gaan ons ook in die nuwe jaar huil en ly, daar nie.
Hier gaan ons dikwels nie verstaan nie, daar gaan ons weet.

Lewe in die nuwe jaar sal hier steeds broos en onseker wees.
Ons sal struikel. Ook sukkel.
Swoeg en sweet.
Maar ons kan ook weet dat ons nog ‘n jaar nader leef
aan die Son van Geregtigheid wat opkom!
Jesus is komende!
Elke dag op pad.
Hy waarborg dat Hy met ons sal wees in die nuwe jaar,
en die tyd wat kom.
“En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”
Matteus 28:20.

God se wil is dat ons in die nuwe jaar wat kom
hierdie toekomsverwagting moet naderwink,
en naderbid, en naderleef!!
Ons is nie geroep om te ontsnap uit die wêreld nie.
Ons is geroep om ook in die nuwe jaar nader aan God te leef,
en Hom nader aan ons medemens te leef.

Ernest