Jesus sê vir hulle:
“Wanneer julle bid, sê dan:
“Vader, laat U Naam geheilig word;
Laat U koninkryk kom….” – Lukas 11:2.

Die Ons Vader Gebed is loshande die bekendste gebed op aarde.
Jesus het ons so leer bid in Matteus 6 en Lukas 11.
Dit is nie net ‘n modelgebed vir gelowiges nie.
Dit is ons standaard gebed.
Ons moet dit aanhoudend bid, oor en oor in die nuwe jaar,
met die opregste bedoeling in elke woord daarvan!
Hierdie gebed leer ons so baie,
veral in die verstaan van ons verhoiuding met God.

Jesus leer ons in hierdie gebed om gedurig te bid
dat God se wil hier op aarde moet geskied.
Net soos wat dit in die hemel gebeur.
Hoe min ons ookal van die misterie daarvan verstaan,
God se wil gebeur deur gebed!
Dit moet soos ‘n goue draad in hierdie nuwe jaar vir jou vleg.
In en deur alles, God se wil.

God se wil gebeur altyd in die hemel,
reeds ‘n ewigheid lank!
God wil dit ook op die aarde laat gebeur!
Net soos in die hemel.
Daarom moet ons aanhoudend bid:
“Laat U wil op die aarde geskied,
net soos in die hemel.”
En ons moet elkeen deel word hiervan,
die gehoorsaamheid aan God se wil vir ons!
Ons moet deel wees van God se antwoord op hierdie gebed.
Ons moet God se gebedsverhoring word in hierdie wêreld.
God wil sý wil deur ons doen in hierdie wêreld!

Word jy nou self die antwoord op gebed vir hierdie wêreld.
Gaan doen wat jy vir God vra.
Hy wil dit deur jóú doen!

Ernest