Wanneer ek in Matteus 6:10 bid:
“..laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel”,
wat sou dit in mý lewe beteken?
Wat sou God se wil vir mý spesifiek wees, in hierdie nuwe jaar?
Baie gelowiges vra dit so spesifiek.
Die klem lê dan veral op “mý lewe”.
Hoe werk God se wil vir mý?
En dan bly die meeste mense lewenslank onseker hieroor.
Hulle praat hieroor, bid hieroor, preek daaroor,
en verskil selfs oor God se wil.
Maar min mense antwoord egter positief op die volgende vraag:
“Is jou lewe tans binne God se wil?”
Die antwoord is gewoonlik:
“Ek weet nie”, of “Ek hoop so”, of “Ek probeer hard”.
Maar sekerheid oor God se wil ontwyk die meeste mense!
Hoekom is dit so?
Die rede is omdat mense dink God het ‘n geïndividualiseerde wil
vir elke mens op aarde, en daardie mens moet dit “ontdek”.
Ons dink in terme van oor die sewe biljoen planne, vir elke indiwidu een.
Elkeen het ‘n haarfyn uitgewerkte bloudruk oor waar hy gaan woon,
of werk, en met wie jy gaan trou,…..
So sit ons opgeskeep met ‘n bloudruk idee van God se wil,
wat ons worstel om te ontdek.
Ons bly dus onseker oor sy “wil” vir mý.
Maak ek dit, of nie?
Is ek binne sy wil, of nie?
God se wil is eenvoudig, en duidelik uitgespel in sy Woord,
vir elkeen wat daarbinne wil lewe.
God maak dit nie ingewikkeld vir ons nie.
God het nie vir ons ‘n plan A, B of C, of noodplanne nie.
God is in beheer en jy is deurgaans in sy hande.
Sy wil gebeur in en deur Christus,
en die Heilige Gees wat in jou woon.
Lééf in Hom, dan is jy in sy wil!
Vra eerder ten opsigte van die Woord van God:
“Lewe ek tans binne God se wil?”
Dit is die vraag om te vra!
Ernest