Een van die grootste beloftes vir hierdie nuwe jaar,
en jou hele toekoms saam met God,
is die woorde van die Here Jesus in Matteus 28:20:
“…En onthou:
Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”
Onthou dit regtig elke dag van jou lewe!
Alle mag in die hemel en op die aarde is die Here sin!
En Hy sal ons nooit alleen laat nie!
Hy is handelend teenwoordig in elke dag van die wêreldgeskiedenis.
Hy sit aan die regterhand van God as oorwinnaar oor alle magte!
En Hy het ook deur die Heilige Gees in ons kom woon!
Dit word ook in Openbaring 5 simbolies beskryf wanneer Jesus
die boek met die 7 seëls oopmaak wat God aan Hom gee.
Hierdie boek verteenwoordig God se wil en raadsplan,
vir die wêreldgeskiedenis.
Hierdie einste plan plaas God nou in Christus se hande.
Die Here self beheer die wêreldgeskiedenis.
Die belangrike is dat Hy die geskiedenis afstuur op
die goeie einde van die Woord.
Ons is nie op pad na ‘n ongeluk, of ‘n onsekere einde nie.
Ons is ook nie in ‘n donker tonnel, en hoop op lig aan die einde nie.
Ons leef nóú reeds saam met die Here in die lig,
en ons is op pad na die nuwe stad van God,
waar geregtigheid vir altyd sal heers.
God se wil is nie ‘n raaisel nie.
Sy wil geskied ten volle in die hemel.
Sy wil is dat die Jesus die Here van die heelal is,
wat die hemel en die aarde rig op die wederkoms,
wat op God se tyd sal gebeur!
Dit is God se wil.
Bekend. Eenvoudig. Duidelik. Verstaanbaar.
God se wil in ‘n neutedop, is die Here Jesus!
Ken Hom en leef vir Hom,
en jy is in God se wil!
Ernest