Verder, hoër, beter, vinniger…
Dit is die taal en die strewe van ons dag.
Resultate is al wat tel.
Op die sportveld, in die akademie, in die besigheidswêreld, oral.
Presteerders tel. Onderskeidingskandidate haal die koerant.
Direkteure wat winste maak is helde.

En so wil mense dit ook oordra na die geloofswêreld, en die kerk.
Selfs gemeentes raak prestasiegedrewe.
Ook geestelike leiers moet prestasieklousules voltooi.

Dit is nie verkeerd om effektiewer te raak nie,
veral ten opsigte van ons dienswerk vir die Here.
Maar prestasie, soos die wêreld dit verstaan,
is nie die teken van groei en sukses in die kerk nie.
Die kerk groei heelteml andersom as die wêreldse meetsnoere.

In die koninkryk tel elke mens, ook die “kleintjies”,
en nie net die wat presteer nie.
In die kerk tel die kleinste daad van opregtheid.
Die koninkryk gaan oor mense wat klein genoeg geword het,
sodat God hulle groot kan gebruik.
Dit gaan nou oor Christus, en nie meer ons eie sug na resultate nie.
Dit is waar God se wil dan in ons lewe begin gebeur.
Dan verander die wêreld rondom ons en is ons suurdeeg, lig, en sout!

Filippense 3:8:
“Ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here,
te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee,
en beskou ek dit as verwerplik, sodat ek Christus as enigste bate kan verkry.”

Ernest