Paulus vertel in Romeine 16:1-4 van Febe,
die dienende leier van die kerk in Kenchreë.
Hy vertel dat Febe al in die verlede aan baie mense goed gedoen het.
Sy was selfs ook Paulus se weldoener.
Hy vra dat die gemeente haar moet ontvang,
en haar op die hande moet dra.
Hy praat ook van sy twee goeie vriende, Priscilla en Akwila.
Hulle het baie hard saam met hom gewerk,
om die goeie nuus oor die Here uit te dra.
Hulle het selfs hulle lewens vir Paulus gewaag.
Let op die wonderlike dinge wat Paulus alles oor hierdie mense sê.
Dienende mense. Mense wat baie goed doen.
Weldoeners. Goeie vriende.
Mense wat hard werk. Die boodskap dra.
Wat selfs hulle lewens vir mekaar waag.
Paulus noem nog mense in die eerste 15 verse.
Hy sê ook nog die volgende oor mense:
“Gesoute gelowige”, “toegewyde gelowige”,
“Iemand wat die Here met oorgawe dien”,
“Iemand wat met sy hele lewe wys dat hy deur die Here uitgekies is”.
Wat sal ander mense van mý sê?
Is dit die soort positiewe getuienis wat ander mense oor my as Jesus-volgeling sal sê?
Iemand het eenkeer ‘n man op die straat voorgekeer en gevra:
“Is jy ‘n Christen?”
Sy antwoord was:
“Moenie vir mý vra nie;
Hier is die name van mense wat my ken, gaan vra hulle.
Hulle sal vir jou sê of ek die Here regtig liefhet, en vir Hom leef.”
Lééf jou geloof só, dat mense sal sê jy het die Here regtig lief,
en jy lééf vir Hóm!
Ernest