Dit is hoe die boek Romeine eindig.
‘n Hoogtepunt einde!
Romeine 16:25-27:
“God besit al die mag.
Niemand in die hemel of op die aarde is so sterk soos Hy nie.
God sal sorg dat julle in Hom bly glo.
Ek weet dit omdat ek die goeie nuus oor Jesus Christus ken.
Ek maak dit oral bekend, ook aan julle.
Baie eeue lank het mense nie geweet wat God se verlossingsplan is nie,
maar nou het Hy dit openlik kom bekendmaak.
God het beveel dat dit wat in die profete opgeskryf staan,
nou verkondig moet word aan mense wat nie aan die volk van Israel behoort nie.
Hy wil hê dat hulle ook in Hom moet glo en doen wat Hy sê.
Ons wonderlike God besit al die wysheid en die kennis.
Aan Hom, die enigste God, kom al die eer toe,
van nou af tot in ewigheid deur Jesus Christus. Amen!”

Die geheim is uit!
Baie eeue lank het mense nie geweet wat God se verlossingsplan is nie.
Nou het Hy dit openlik kom bekendmaak!
Daarom sê die einde van vers 27 “…deur Jesus Christus.”
Niemand sou kon dink dat God dit só sal doen nie.
Dat Hy sy Seun sou stuur om vir almal te wys hoe lief Hy alle mense het!

Jesus het dit op aarde kom demonstreer en kom leef.
Martin Luther het gesê:
“Jesus was nie ‘n spook nie. Hy het ore, oë, ‘n mond,
neus, bors, lyf, hande en voete gehad, ja,
net soos ons geëet, gedrink, gebid, gehuil en gelag.”

Hy weet alles van jou menswees.
Daarom verstaan Hy alles van jou volkome.

Maar Jesus het mens geword om te sterwe.
Hy sterf vir ons sonde sodat ons vrygespreek kan word.
Jy hoef geen bagasie van die sonde meer saam te sleep nie.
Ja, meer as dit.
Hy het uit die dood opgestaan,
sodat ons lewe kan oorloop van al God se goedheid,
vir elkeen van ons!

Wat ‘n toekoms het jy nie!!

Ernest