God werk regtig só ánders…
“God het die maatstawwe van die wêreld totaal omgekeer.
Wat volgens mense swak is, het God besluit om sterk te maak.
Dinge waaraan mense hulle nie steur nie,
en wat hulle dink nutteloos is,
gebruik God om sy doel te bereik.
So word dinge wat mense weer dink iets werd is,
nutteloos wanneer dit by God se planne kom.
Geen mens kan dus voor God gaan staan,
en spog dat hy iets met die reddingsplanne van God te doen het,
en daarvoor geprys moet word nie.” – 1 Kor.1:27-29.

Christene verstaan iets hiervan wanneer hulle nuwe mense in Christus is.
Hulle kyk nou ook anders na alles en almal,
omdat God anders as mense kyk.
Hulle begin kyk en sien soos God kyk en sien.

In die tyd van die kerk in die Romeinse Ryk, was daar oor die 60 miljoen slawe!
Slawe was nie as mense gesien nie, en hul eienaars kon met hulle doen net wat hulle wou.
Die Christelike kerk het dit radikaal kom verander.
Die Christendom het mense wat dinge was, kom verander in egte mense.
Meer nog: hulle is verander in kinders van God!
Waardevol in God se oë!
Christene kyk anders na alles en almal.

Na 30 dae by ‘n geestelike kamp,
het ‘n priester teruggekeer na die klooster.
‘n Regte klakous priester het by hom gekla
oor hoe hard hulle moes werk terwyl hy weg was.
“Kyk na jou! Jy lyk nie eers anders nie!”, het hy gesê.
Die terugkerende priester het hom op en af gekyk en gesê:
“Jy is waarskynlik reg. Ek lyk waarskynlik nie anders nie.
Maar jý lyk vir mý heeltemal anders.”

‘n Ontmoeting met die Here laat jou anders na alles en almal kyk!

Ernest