“My liewe vriende, dink ‘n bietjie mooi na oor wie julle regtig was,
voor God julle uitgenooi het.
Volgens mense was die meeste van julle maar dommerig en eenvoudig.
Julle was maar gewone werkers sonder enige invloed,
wat uit die swakker deel van die dorp gekom het.
Maar God werk anders.
God het juis onbelangrike mense aan wie niemand hulle steur nie,
gekies om die beterweterige mense wat dink hulle is belangrik, skaam te maak.
God se keuse het geval op mense op wie almal trap,
omdat hulle sosiaal nie vir daardie mense iets kan beteken nie.
Mense wat dink hulle is die room van die samelewing sal skaam en verleë
voor hierdie arme onbelangrike mense moet kom staan.” – 1 Kor. 1:26.
God het van die begin af die eenvoudigste mense gebruik,
om die wêreld se slimstes skaam te maak.
Hy gebruik eenvoudige mense om vir Hom uitsonderlik te wees.
Dikwels is dit die eenvoudiges, wat met die wysheid van God,
die slimstes van balans af gooi.
William Carey was in die oë van die gemeenskap ‘n eenvoudige mens.
Hy het geen uitsonderlike gawes gehad in die oë van die mense nie.
Niks wat hy aangepak het, was in die oë van die mense baie suksesvol nie.
Maar Carey het ervaar dat God hom roep,
om regtig ‘n verskil in hierdie wêreld te maak.
Hy het in 1793 ‘n sendeling geword in Indië.
Hy was ‘n een-talent-mens.
Maar hy het daardie een talent tot eer van God begin gebruik!
Sy talent was dat hy baie maklik ‘n taal aangeleer het!
So het hy die Bybel in ses tale vertaal!
Sy reuse passie vir die sending het gemaak dat hy vandag nog bekend staan
as die vader van die moderne sendingbeweging.
God gebruik eenvoudige een-talent-mense om die wêreldse verskil te maak.
God wil jou gebruik vêr bo wat jy dink of verwag!
Wees beskikbaar, soos Carey, en God sal dit doen wat Hy deur jou wil doen!
Ernest