God is werklik, en teenwoordig, maak nie saak hoe jy voel nie.
Wanneer dit goed gaan is dit maklik om God te aanbid.
Maar wanneer dinge erg verkeerd loop,
hoe aanbid jy God dán?
Aanbidding is om God, ondanks pyn en verlies , steeds te loof en prys!
Hom te dank en te vertrou ten spyte van.
Om aan Hom oor te gee terwyl jy ly.
Om Hom lief te hê, al voel dit vir jou Hy is afsydig.

Ons voel inderdaad nie altyd ewe naby aan God nie.
Hoewel Dawid naby aan God geleef het,
kla hy dikwels oor God se skynbare afwesigheid!
Lees maar Psalm 13, en Psalm 10:1:
“Waarom staan U so ver weg, Here?
Waarom trek U U terug in tye van nood?”
God staan egter nie ver weg nie,
en Hy trek Hom beslis nie terug in tye van nood nie!
Dit is Dawid se belewenis.

God belowe ook nie dat jy sy teenwoordigheid altyd sal “voel” nie.
Die probleem is dat ons dikwels eerder ervaring soek, as om God te soek!
God is altyd teenwoordig, selfs wanneer jy gladnie van Hom bewus is nie.
En sy teenwoordigheid is te diep, om dit bloot aan jou subjektiewe emosies te meet.
Dit is vir God belangriker dat jy Hom vertrou, as dat jy Hom “aanvoel”.
Geloof behaag God, nie gevoelens nie.

Vertrou God vir sy teenwoordigheid, in elke aspek van jou lewe.
Vertrou Hom om 24/7 by jou te wees!

Ernest