Bring die Evangelieboodskap so.
Eenvoudig en nederig.
Kyk wat skryf Paulus in 1 Kor. 2:3-5:
“Ek was nie voor op die wa nie.
Om die waarheid te sê, ek was maar skrikkerig,
want ek het geweet ek is nie iemand wat belangrik of invloedryk is nie.
Ja, my boodskap was eenvoudig.
Dit was nie ‘n klomp hoë woorde wat ‘n mens se kop laat draai,
of so geleerd klink dat jy maar net ja en amen sê nie.
In plaas daarvan om na slim argumente te luister,
kon mense eerder sien hoe kragtig die Gees van God werk.
Julle vertroue op God en sy boodskap,
staan dus nie op die wankelrige pilare van mense se slim idees nie,
maar dit staan vierkant op die krag van God.”

Jy sien hoe kragtig die boodskap van God werk,
en hoe kragtig die Gees daardeur werk,
wanneer jy sien hoe dit mense se lewens verander.
‘n Alkoholis wat tot bekering gekom het is deur sy vriende getreiter
Hulle het vir hom gesê ‘n verstandige man soos hy kan tog nie glo in Bybelse wonders nie.
Veral nie dat Jesus water in wyn verander het nie.
Die man het geantwoord:
“Hoe Jesus water in wyn verander het weet ek nie.
Maar wat ek wel weet is dat Hy wyn en bier in my huis verander het,
na meubels, en kos op die tafel, en ‘n gelukkige gesin wat my liefhet.”

Niemand kan argumenteer teen jou getuienis,
en die bewyse van ‘n veranderde lewe nie!
Moenie mense probeer inpraat in Christenwees nie.
Iemand met ‘n beter argument praat hulle weer daaruit.
Leef vir die Here en wys vir hulle Jesus in jou lewe!
‘n Christen is iemand in wie Jesus lewe!
Veranderde lewens laat mense dink.
Veranderde lewens verander mense!

Mense sien daarin hoe kragtig die Gees van God werk.

Ernest