Dit lyk dikwels asof sommige gelowiges eenvoudig moed opgee
ten opsigte van sekere areas van hulle lewe.
Hulle voel of dink dat hulle al soveel keer misluk het,
en dat hulle nie kan vooruitgaan nie.
Dit laat ‘n mens dink aan die groot stede wat op die buitekante vining groei,
maar in die kern van die stede is daar deurlopende agteruitgang.
Geboue verval en dienste gaan stadig maar seker agteruit.
Tog is daar baie stede wat deesdae gefokusde aandag gee
aan die opgradering van hul kern-areas.
Hul behaal buitengewone sukses om nuwe lewe in die kern van die stede te blaas.
Deur tyd en inspanning vind opgradering plaas in terme van teaters, parke, nuwe geboue,
en is daar weer ‘n toeloop van mense na die kerngebiede.
Deur met nuwe oë na die area te kyk kom konstruktiewe vooruitgang!
Christene kan hieruit iets leer ten opsigte van verval in jou eie lewe.
Paulus vra in Romeine 6:1-2:
“Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem?
Beslis nie!”
Ons moet ook die gebiede in ons lewe waar ons telkens misluk en agteruitgaan
sien as areas wat toegewyde fokus nodig het.
Gefokusde gebed en volhardende toewyding,
om juis daár aan die Here gehoorsaam te wees.
Ons hoef beslis nie in geestelike armoede of agteruitgang te lewe nie!
Geen sonde het die mag om ons te oorwin nie!
Christus het die greep van die Bose vir ewig verbreek!
Ernest