Gholf is ‘n spel wat jou nederig kan hou.
Die meeste sosiale spelers speel te min om goeie beheer te hê.
Dit gebeur dan ook selde dat jy al die houe reg slaan.
Dryfhoue trek skeef.
‘n Bal wat moet “fade”, trek jy, en andersom…
‘n Bal wat vlug vra, land in die water of sandput.
Jy sukkel om die setperke te lees.
Jy set te hard of te sag…

Gholf wys baie gou die tekortkominge van jou swaai uit.
Dit raak gou ‘n spel van selfmarteling…..
Hoe gouer jy van ‘n swak hou kan vergeet,
en op die volgende hou kan konsentreer,
hoe beter.
Jou gholf verbeter en jy begin die spel geniet.
Dit help nie om te broei op die vorige swak houe nie.
Die volgende hou, in gholf en in die hele lewe, is die groot hou wat gaan tel.

Paulus skryf ook in die opsig in Filippense 3.
Hy gee dieselfde raad in verse 13-14 ten opsigte van jou geestelike lewe:
“Ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.
Ek span my in om by die wenstreep te kom.”

Die sleutel vir vooruitgang in jou geestelike lewe is om jou oog op die eindpunt te vestig.
Fokus deurgaans op die volgende hou!
Indien jy deurgaans op die vorige swak houe fokus,
stuur jy af op moedeloosheid en mislukking.

Wanneer sonde of mislukking van die verlede jou bly agtervolg,
moet jy onthou jy kan beslis alles daaraan doen!
Bely dit voor God,
Vra sy vergifnes, en aanvaar dit, en leef uit die vergifnes!
Fokus dan op die volgende hou,
en die toekoms saam met God!

Ernest