“Alles het deur Hom tot stand gekom:
Ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan,
het sonder Hom tot stand gekom nie.
In Hom was daar lewe,
en dié lewe was die lig vir die mense.
Die lig skyn in die duisternis,
die duisternis kon dit nie uitdoof nie.”
Johannes 1:3-5.
‘n Fliek wat jy moet sien is The Mission,
waarin Robert de Niro speel.
Dit speel af in Suid-Amerika.
Sendelinge verkondig die liefde van die Here aan Indiane
in afgeleë plekke.
So ontstaan ‘n geloofsgemeenskap wat die Here Jesus volg.
Die Spaanse regering besluit om ontslae te raak van “The Mission”.
Hulle wil die Indiane as slawe hê, en nie as kinders van die Here nie!
‘n Aaklige bloedbad volg waar Spaanse soldate die Indiane
en die sendeling priesters vermoor.
Een sendeling bly voortlees uit 1 Kor. 13 tydens die bloedbad….
Die treffendste van die fliek is egter die slottoneel.
Vier jong kinders wat die bloedbad wonderbaarlik oorleef het,
roei rivier op om die droom en werklikheid van Jesus-liefde
en ‘n Jesus-geloofsgemeenskap aan ander te gaan vertel!
Terwyl die teater stikdonker word,……
verskyn die volgende woorde in spierwit op die skerm:
“The light shines in the darkness,
and the darkness has not overcome it”
(John 1:5 - English Standard Version)
Nie eers al die duisternis in die skepping kan één kers uitdoof nie!
Geen vervolging van God se kinders kan sy liefdesboodskap stop nie!
Niks of niemand kan ooit die Lig uitdoof nie!
The Message vertaal vers 5 so:
“The Life-Light blazed out of the darkness;
the darkness couldn’t put it out.”
Hierdie lig is ‘n Persoon wat al vóór die skepping daar was,
wat ís, en wat vir altyd sal wéés!
Hy is nou die Lig wat ons weerkaats, die Lig wat in ons skyn.
“Laat julle lig so voor die mense skyn,
dat hulle julle goeie werke kan sien,
en julle Vader wat in die hemel is verheerlik.” Mat. 5:16.
Roei stroomop,
om Jesus-liefde en Jesus-geloofsgemeenskap aan die wêreld te bring!
Ernest