Maak tyd!

Daar is tyd om te doen, en tyd om te bid.
Jy moet tyd maak vir altwee.

Ons sien in Markus 6, so tussen die lyne deur, dat Jesus baie besig was.
Ons lees vanaf vers 45:
“Net daarna het Jesus sy dissipels aangesê om in die skuit te klim
en solank vooruit te gaan na die oorkant, na Betsaida toe,
terwyl Hy nog eers die mense huis toe stuur…”
Hulle moet solank vooruit gaan,
terwyl Hy nog iets anders doen,…‘n besige program.
En dan lees ons hierdie woorde in vers 46:
“Nadat Hy hulle laat gaan het,
het Hy die berg opgegaan om te bid.”

Te midde van ‘n besige program máák Jesus tyd om te bid!
Catherine Marshall het gesê:
“The best time for prayer isn’t found. It’s made!”

Jy sal nooit tyd “vind” vir stil word voor God nie.
Jy moet tyd maak daarvoor.
Die lewe bly jou in die maalkolk van gejaagdheid insuig.
Maak ‘n tyd wat vir jou werk.
Maak dit jou beste tyd.
Vir party van ons werk vroeg in die oggend.
Vir ander werk dit in die aand.
Vir nog ander werk dit oor die middag breek in etenstyd.
Die belangrike is:
Jý moet dié tyd máák.
Soos Jesus.

En dan, terwyl Jesus op die berg bid,
sien Hy hoe swaar sy dissipels op die see kry.
Tyd vir gebed is nou verby.
Dit is tyd vir aksie wat voortvloei uit gebed!
Hy het van Homself vergeet en sy dissipels gaan help!
Maak tyd vir bid.
Gaan oor tot aksie, wat voortvloei uit gebed!

Ernest