Ons lees in Markus 8:14-15:
“Die dissipels het vergeet om brood te koop.
Hulle het net een brood by hulle in die boot gehad.
Jesus waarsku hulle toe:
“Wees baie versigtig vir die suurdeeg van die Fariseërs en Herodes”.

Suurdeeg is deur die Jode gesien as simbool van sonde.
Daarom ook die gebruik van ongesuurde brode.
Jesus het egter ook die simbool van suurdeeg positief gebruik
in Matteus 13:33:
“Die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat ‘n vrou gevat
en in ‘n groot skottel meel ingewerk het
totdat dit heeltemal deursuur was.”

Hier in Markus 8 gebruik Jesus die beeld van suurdeeg
om aan te dui hoe mense ‘n negatiewe invloed op ons kan hê.
Wat bedoel Jesus met die suurdeeg van die Fariseërs en Herodes?
As iemand se invloed jou nie beter maak nie,
maar duidelik eerder slegter,
dan moet jy Jesus se waarskuwing van hierdie suurdeeg-invloed hóór.
Jesus waarsku teen die invloed van die Fariseërs,
wat blind was vir God omdat hulle self god probeer speel,
en Herodus, wat behep was met aansien en mag,
omdat hy gedink het hy is ‘n god.
Jesus waarsku teen negatiewe invloed op jou lewe.

Ondersoek jouself en vra jouself waar laat jy toe dat
jou denke en lewe bepaal word deur die wêreld en vriende,
in plaas van deur die Here!
Is daar mense wat in jou lewe funksioneer soos slegte suurdeeg?
Mense wat toksies is ten opsigte van jou lewenskwaliteit vir die Here.
Voor jy besef het dit in jou lewe ingetrek,
soos slegte suurdeeg, en jou hele lewe versuur.

Luister na die Here hieroor.
Tree op.

Ernest