‘n Baba lê in ‘n kankersaal.
‘n Jong man verloor sy bene in ‘n ongeluk.
‘n Buurman sterf in ‘n motorkaping en laat ‘n vrou en kindertjies agter.
‘n Sendeling en sy gesin word deur terroriste vermoor.
Waar is God as al hierdie dinge gebeur?
Is Hy nie magtig genoeg om dit te keer nie?
Gee Hy nie om nie?
Hoekom daar swaarkry is,
is ‘n vraag waarmee die mens nog altyd worstel.
Een ding weet almal:
Swaarkry is deel van die lewe en Christene word dit nie gespaar nie.
Wat ons wel ook weet is dat die Here op ‘n baie spesiale manier
by sy kinders wil wees as hulle swaarkry.
Moontlik omdat Hyself ook bitter swaargekry het toe Hy op aarde was.
Neem vir Job.
Hy dien die Here en vermy kwaad.
Job 1:3 sê onder die mense in die Ooste was hy die belangrikste man.
Maar in die onsigbare wêreld het ‘n drama afgespeel
waarvan Job niks geweet het nie.
Satan het hom raakgesien en jaloers geraak!
As dit met ‘n mens sleg gaan,
is dit soms ‘n plan van Satan om ons van God af weg te rokkel.
Kies om God te dien,
al smee die duiwel ook watter bose plan om jou van koers af te kry.
Dit was nie God wat Job wou laat swaarkry nie.
Job het met geloof bly wag op die Here.
Job 2:10 sê onder alles het Job met geen woord gesondig nie.
Hy kies om God te vertrou met sy omstandighede,
al verstaan hy niks daarvan nie.
Alle swaarkry is nie straf vir sonde nie,
en dit gaan nie noodwendig altyd met jou goed as jy reg lewe nie.
God het vir Satan in Job se geval gesê:
Tot so ver, en nie verder nie.
In Job se lewe demonstreer die Here dat net Hy as God beheer oor ons lewens het.
Satan is onderhewig aan die wil van die Here!
Kies om te glo dat God altyd ‘n goeie rede het
waarom Hy toelaat dat sy kinders swaarkry.
Ernest