Dr. Robert A Cook, vorige president van The King’s College,
het sy gehoor vertel dat hy die vorige dag met George W Bush gepraat het.
En die dag voor dit met president Ronald Reagan.
“Maar dit is nog niks nie”, het hy gesê.
“Vanoggend het ek met die Here gepraat.”
Gebed kry waarlik groter betekenis as ons opnuut besef met Wie ons praat!
Ons praat met die almagtige God!
Job het hierdie belewenis gehad toe hy uitgeroep het:
“Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê,
maar nou het ek U self gesien en nou verag ek myself,
nou sit ek vol berou, in sak en as.” – Job 42:5-6.
Jesaja het ‘n visioen van God gesien en uitgeroep:
“Dit is klaar met my!
Ek is verlore!” – Jes. 6:5.
Esegiël het die heerlikheid van God gesien en gesê:
“Toe ek dit sien, val ek plat.”- Eseg. 1:28.
Toe Johannes ‘n visioen van God gesien het, het hy gesê:
“Ek het by sy voete neergeval.” – Openb. 1:17.
Vir al hierdie mense was ‘n ontmoeting met die Here ‘n oorweldigende besef.
Hulle eie nietigheid in kontras met die almagtige God se grootheid.
Nogtans nooi die Here ons elkeen persoonlik uit om met Hom te praat!
Meer nog! Hy wil hê ons moet Hom as Vader aanspreek!
Jesus sê:
“Wanneer julle bid, sê dan:
“Vader,….” – Lukas 11:2.
Ons grootste voorreg is om met God te kan praat!
Praat met God!
Ernest