Ons kan op enige plek en enige tyd bid.
Wat ‘n voorreg is dit nie!
Maar ons moet ons ook in gebed afsonder.
Daar is ook tye wat ons die deur moet toemaak,
en alleen in God se teenwoordigheid wees.
Niemand anders nie, as Jesus self, gee hierdie raad:
“As jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe,
en bid tot jou Vader.” – Matteus 6:6.
Wanneer ons eenkant toe gaan om met ons hemelse Vader te verkeer,
moet ons die besige wêreld doelbewus uit ons gedagtes uitsluit om Hom te “hoor”.
Daar en dan kan ons ons harte teenoor die Here oopmaak.
Ons sal intense gemeenskap met die Here ervaar.
Ons sal sy teenwoordigheid meer kan aanvoel.
Die Here Jesus het dikwels so alleen met sy Vader verkeer.
Dit was gewoonlik na ‘n besige dag soos in Lukas 5.
By ander geleenthede het Hy na sy Vader gegaan
voordat Hy ‘n belangrike besluit moes neem, soos in Lukas 6:12.
Ons kan met groot vrymoedigheid eenkant toe gaan,
en “die deur toemaak”, en tot ons Vader bid.
Die Bybel gee immers die versekering dat,
“as ons enigiets volgens sy wil vra”,
Hy dit sal doen. – 1 Joh. 5:14.
Matteus 6:6 beklemtoon:
Een van die geheime van gebed is gebed in die geheim.
Ernest