Kom saam met my
In groot kettingwinkels word personeel geleer
om doelbewus saam met kliënte na die rak te loop,
en hulle te begelei, wanneer hulle na ‘n bepaalde produk soek.
Hulle moenie net mondelinge aanduidings gee nie.
Hierdie eenvoudige maar beleefde daad,
wanneer die assistant saam met die kliënt stap en hom begelei,
leer ons ook iets van om “saam met mense te stap” in die lewe.
In Johannes 1 lees ons ‘n paar keer dat mense genooi word om “saam te kom”.
In vers 39, en weer in vers 46.
In vers 39 sê Jesus:
“Kom saam, dan sal julle sien.”
In vers 46 nooi Filippus vir Nataniël:
“Kom kyk…”
Nadat Andreas ‘n dag saam met Jesus deurgebring het,
gaan hy na sy broer, Simon Petrus,
en sê vir hom dat hy die Messias gesien het!
Vers 42 sê dan:
“Hy het hom na Jesus toe gebring.”
Om vir die Here te getuig, is soms net om ander van Hom te vertel.
Maar dit is meer dikwels ook nodig om langs ander mense te stap na Hom toe.
Om saam met ander mense te stap na Hom toe.
Mense wat hulp en leiding en redding nodig het.
Dikwels is dit juis daardie saamloop in die lewe,
wat nodig is om iemand waarlik na Jesus te lei.
Dit is mos ook wat dit beteken om dissipels vir die Here te maak.
Deernis en begrip het meer mense na die Here gelei, as net woorde alleen.
Stap saam.
Bring mense na die Here toe,
soos Andreas met sy broer Simon Petrus gedoen het.
Besluit nou dat jy saam met mense na die Here gaan stap,
en doén dit
Ernest