Iemand het eenkeer gesê:
God is selde haastig wanneer Hy groot dinge wil doen.

Ons leef in ‘n tyd waarin ons vir niks wil wag nie.
Nie in ‘n ry nie, en ook nie vir diens nie.
Nie op ‘n telefoon nie, en ook nie vir parkering nie.
Ons maak kitskos en kitskoffie.
Kinders wil ook alles nóú hê.
En ons spring om alles nóú te gee….

In geloof werk dit nie so nie.
Ons weet eintlik in die lewe is dinge wat die moeite werd is,
dikwels dinge waarvoor jy moet wag.

Die Here, wat tydloos is, vra van ons ‘n volwasse geloof wat op Hom kan wag.
Psalm 130:5 sê:
“Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom,
ek wag op die vervulling van sy woord.”
Soms lyk hierdie wag op die Here na beproewing.
Maar geduld is ‘n teken van geestelike volwassenheid.
Daarom is geduld ook deel van die vrug van die Gees. – Galasiërs 5:22.

Dikwels moes mense in die Bybel “wag”.
En dikwels is gebede gebore uit hierdie “wag op die Here”.
Jakob wag 7 jaar vir sy vrou, en nog 7 jaar as sy skoonpa hom verneuk!
Die Israeliete wag 4 eeue vir verlossing.
Moses wag 4 dekades voor hy die volk moes uitlei,
en nog 4 dekades voor hulle in die beloofde land kan ingaan.

Psalm 130:6 gaan voort en sê:
“Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag.”
Wag op die Here!
Hy is getrou!

Ernest