Hoop, met ‘n uitroepteken!
Leef met hoop!
Die woord “hoop” het met die toekoms te doen.
Mens hoop nie oor iets wat reeds verby is nie.
Jy hoop nie dit het gister by jou huis gereën as jy daar was nie.
Jy weet dit het, of dit het nie.
Maar van môre weet ons min.
Daarom hoop ons ten opsigte van môre.
Dit is die manier waarop ons die toekoms aandurf.
Soms is ons hoop maar flou.
Veral as alle vooruitsigte sleg lyk.
Dan vra ons of daar regtig hoop vir die toekoms is.
Veral as ons na dinge in die wêreld rondom ons kyk.
Kan ons in so ‘n wêreld nog hoop?

In Psalm 39:8 vra die skrywer:
“”Is daar nog hoop vir my, Here?...”
Sy omstandighede word as haglik beskryf in die Psalm.
Hy dink selfs net aan die dood.
En dan kyk hy vorentoe en vra of daar nog hoop is.
Hy gee self die antwoord:
Daar is verseker hoop!
“U is my enigste hoop.”
Daar is hoop want die Here is sy enigste hoop!

Al lyk die toekoms hoe donker,
al is daar menslik gesproke geen vooruitsigte nie,
dan weet ons God is reeds in die toekoms teenwoordig!
Die toekoms behoort volledig aan die Here!
‘n Kind van die Here hoop nie maar net op die beste nie.
Hy leef vorentoe om die erfenis, wat reeds vir hom gewaarborg is,
in ontvangs te neem!
Jou hoop op die Here is nie ‘n skoot in die donker nie.

Ons toekoms, en ons hoop op die toekoms,
is nie van ons omstandighede afhanklik nie.
Ons hoop is ‘n lewende Persoon!
Die lewende Christus wat in ons is!
Daarom sê Kolossense 1:27:
“Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid.”
Christus het die vyand van die hoop verslaan.
Ons leef nie met hooplose vooruitsig nie,
maar juis met groot toekomsverwagting!

Christus is jou totale hoop in alles!
Leef met lewende hoop!

Ernest