In 1 Kor. 16:13 sê Paulus hierdie baie belangrike woorde:
“Wees waaksaam, staan vas in die geloof,
wees manmoedig, wees sterk.”
Die Nuwe Lewende Vertaling sê:
“Wees op en wakker! Staan vas in wat julle glo!
Wees moedig! Wees sterk!”
Die spilpunt van hierdie bemoediging is:
Staan vas in wat julle glo!
‘n Anker wat maklik losruk, is geloof.
Veral geloof in God se almagtige teenwoordigheid!
Ons groot probleem is ons sintuie.
Ons wil sien, proe, ruik, tas…
En nou wil ons by ons sintuie bevestiging kry van wat ons glo.
Ons sê selfs: “Sien is glo”. En dan is dit hoe ons wil glo.
Ons wil God se goedheid op ons bankstaat sien.
Ons wil God se seën in gesondheid voel.
Ons wil sy genade met ‘n mes en vurk kan eet, of aantrek.
As jou rekening in die rooi is, of jy honger gaan slaap, of siek raak,
dan wankel jou geloof!
Dan luister ons na die Bose wat ons in twyfel wil dompel.
Ons “sien” so sleg. Ons is so kortsigtig.
Ons kyk so verkeerd.
Ons kyk nie met geloofsoë nie!
Daarom beklemtoon Paulus dit ook nog verder met 2 Kor. 5:6-7:
“Daarom is ons altyd vol moed. Ons weet dat, solank as ons in die liggaam bly,
ons nog nie by die Here woon nie, want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie.”
Kyk met geloof en leef met geloof!
Dan sien jy vergesigte!
Daarom hou ons moed.
Ons kyk in die geloof baie ver vooruit!
Wees op en wakker! Staan vas in wat jy glo!
Wees moedig! Wees sterk!
Ernest