Die Here roep ons om alle spasies waarbinne ons
onsself daagliks bevind, te vul met God se eer!
Deel van hierdie spasies is die virtuele wêreld.
Meer as een en ‘n half miljard mense is wêreldwyd aanlyn bedrywig.
Die internet is ‘n onuitputlike bron van inligting.
Jy kan enige iets google,
en binne sekondes ‘n magdom inligting tot jou beskikking hê.

Die digitale wêreld is ‘n verlengstuk van mense se leefwêrelde.
Hier ontstaan dikwels nuwe verhoudinge.
En die Here is ook daar aanwesig!
Mense groei tot geloof en ook in hulle geloof, in die digitale wêreld.
Daarvan is ook hierdie boodskappe ‘n voorbeeld.
Om “connected” te wees is ‘n verhoudingsterm.

Gelowiges moet ook die digitale wêreld gebruik om die evangelie uit te dra.
Len Wilson het gesê:
“Our job as messengers of the gospel,
is to speak in whatever language the culture is speaking.”
Groei egte verhoudings in die digitale wêreld waar jy beweeg.

Die virtuele wêreld sal nooit persoonlike kontak
en interpersoonlike verhoudings kan vervang nie.
Maar kyk net wat beteken mense vir mekaar op Facebook, blogs,
MySpace, You Tube, Twitter, en so meer.
Om nie eers te praat van ons selfoonkultuur nie.
Dikwels deel mense eerder hul harte op Facebook as met hul eie familie!
Jammer, maar waar!

Vul ook hierdie spasies waar jy beweeg met God se eer,
waar en wanneer jy daarin beweeg.
Of jy in ‘n winkel is, of in die bank,
langs die sportveld, of op die internet,
wees aktief daar besig in Jesus se Naam!
Elke spasie is belangrik.
Elke geleentheid is verhoudingsmatig.
Dit hang van jou af met watter inhoud jy dit vul.
Hou Christus se Naam en God se eer daar op die voorgrond!
“Ons is wierook wat deur Christus vir God gebrand word,
waarvan die geur dié bereik wat gered word,
sowel as dié wat verlore gaan”. 2 Kor. 2:15.

Ernest