Malcolm Gladwell praat in sy boek “The Tipping Point” van
mense wat die vermoeë het om opinies te swaai.
Hulle tip die skaal.
Hulle vestig nuwe idees, en bewegings, en laat
lewensveranderende idees soos ‘n veldbrand versprei.
Hulle gee die pas aan.
Hulle stel nuwe standaarde.
Hulle laat die wêreld anders dink.
Die wonderlike is dat ons hulle ook oral op die geloofsfront kry.

Hierdie “Tipping Pointers” inspireer jou,
om kleiner te word sodat God groter kan word in jou lewe.
Sodat groter dinge vir die Here kan gebeur deur jou lewe.
Hulle skep gedurig nuwe geleenthede,
en laat gelowiges nuut dink en doen.

Moenie verbaas wees dat die Here ook vir jou
wil gebruik as ‘n “tipping pointer” nie!
Iemand wat die skaal na die Here se kant toe laat “tip”,
in jou lewenswêreld, in jou invloedsfeer.
Samelewing-veranderende gelowiges!
Dit is wat die Here wil hê ons moet wees.
Gelowiges wat nie vir die verhoog speel nie.
Wat nie in kerklike bomskuilings wegkruip nie.
Wat uitreik na mense, alle mense!
Armes, slagoffers, afgedanktes, eensames,
God-soekende mense wat op die oop see van
die lewe verdrink.

Word ‘n gelowige wat moed het,
moed om saam met die Here op die water te loop.
Word een van Jesus se eietydse simbole van hoop.
Gooi reddingstoue uit na mense.
Doen dit in die Naam van die Here.
Gee sonder om iets terug te verwag.
Bid, dra laste, gee om.
Wees ‘n “tipping pointer” waar jy lewe!
Doen dit in die krag van die Here!
“Maar julle sal krag ontvang,
wanneer die Heilige Gees oor julle kom,
en julle sal……” Handelinge 1:8.

Ernest