Deur sy genade gebruik God selfs mislukking.
Wanneer ons misluk skuif God ons nie eenkant toe nie.
Dawid se verhaal vertel ook daarvan.
Sy sonde van owerspel en moord.
In Psalm 51:11 kom pleit hy by die Here:
“Moet tog nie ag slaan op my sondes nie,
wis al my skuld uit!”
J. Stuart Holden vertel van ‘n ou Skotse kasteel
waarvan die mure oortrek is met sketse wat deur
die jare deur bekende kunstenaars gemaak is.
Dit het alles begin by ‘n lelike vlek wat op een muur was.
Lord Landseer, ‘n bekende skilder, het daar gekuier,
en ‘n mooi skildery oor die vlek gemaak.
Hy het die lelike vlek in iets baie mooi omskep.
‘n Skets so eie aan die Skotse hooglande.
Die Here het ook die vlek van Dawid se sonde in iets mooi omskep.
Hy het Dawid nie verwerp nie, maar hom deur die Gees gelei om
Psalms 32 en 51 te skryf.
Psalms van skuldbelydenis en vergifnis.
Deur eeue het hierdie Psalms in God se Woord
hoop aan berouvolle sondaars gebring!
God keur nooit sonde goed nie.
Inteendeel, Hy haat dit.
Maar God het die sondaar self so oneindig lief.
Ons moet die verantwoordelikheid vir ons sonde dra,
en dikwels ook die hartseer gevolge daarvan.
Maar wanneer ons sonde bely werk God in ons harte.
En Hy doen meer as die kunstenaar wat die vlek toegeskilder het.
God verwyder die sondevlek geheel en al.
Hy maak ons sterker en meer bruikbaar as tevore.
Deur die genade van God,
hoef mislukkings nooit finaal te wees nie!
Ernest