“Toe die Jode die groot opkoms sien,
is hulle met afguns vervul.” – Handelinge 13:45.
Afguns en jaloesie is gevoelens van onvergenoegdheid
wat na vore kom as jy na ander se goeie kwaliteite
of besittings kyk, en dit vir jouself begeer.
Ragel was jaloers op Lea omdat sy kinders gehad het.
Josef se broers was jaloers op hom as gevolg van sy drome.
Saul was jaloers op Dawid omdat vroue hom geprys het.
En hier in Handelinge het die Jode Paulus se prediking teengestaan,
omdat hulle die groot opkoms gesien het.
Groot skares het ook na F.B. Meyer gaan luister toe hy in
Northfield, Massachusetts dienste gehou het.
Maar toe het die bekende G. Campbell Morgan
ook daar dienste gaan hou.
Groter skares het na sy dienste gaan luister.
Meyer het bely dat hy afgunstig was.
In die proses het hy sy perspektief verloor,
oor waaroor dit eintlik gaan, naamlik die koninkryk van God.
Toe hy sy afguns besef, het hy vir Morgan se bediening begin bid!
Hy het bygedra, deur gebed,
tot nog groter uitbreiding van die koninkryk van God!
Afguns.
Enigiets wat iemand anders het kan dit by jou wakker maak.
Intelligensie, voorkoms, populariteit, selfs geestelike insig,
soos hierbo in die Handelinge teks,
en met Meyer en Morgan.
Ons is nie immuun teen die aanslag nie.
So weerstaan ons die werk van die Heilige Gees in ons.
Wanneer daar afguns, jaloesie, en naywer in ons harte kom.
Wees nugter en wakker,
en onderskei dadelik afguns in jou lewe,
en weer dit uit jou lewe!
Ernest