Jaloesie maak jou bitter en ongelukkig.
Jy beroof nie net ander van blydskap nie,
maar veral ook jouself.
Wanneer ons die pyle van jaloesie na ander skiet,
wond ons gewoonlik onsself!
Teen die muur van ‘n kapel in Padua in Italië,
hang ‘n skildery van Giotto.
Dit is ‘n uitbeelding van jaloesie.
Lang ore om skindernuus te hoor.
Skerp en giftige tong van ‘n slang,
om mense se reputasie te vergiftig.
Die tong krul ook terug,
om te wys die skade word ook aan jouself gedoen.
Blinde oë. Jaloesie maak jou blind.
Jaloesie was een van die sondes wat die gemeente
in Korinthe skade aangedoen het.
Hierdie gemeente ondervind verdeeldheid omdat hulle
jaloers is op mekaar se gawes!
Elke gelowige wil die belangrikste wees.
Paulus moedig hulle aan om die weg van die liefde te volg.
Hy wys hulle daarop dat liefde “nie afgunstig is nie”.
Indien ons ongelukkig voel oor ander se sukses,
en ontdek dat ons krities teenoor hulle reageer,
dan het jaloesie in ons harte ingekruip.
God se teenmiddel vir hierdie gif is liefde.
1 Kor. 13:4 sê die liefde “is nie afgunstig nie.”
Ernest