‘n Man wat baie jare in die tronk deurgebring het is vrygelaat.
Hy was egter nie lank vry nie en pleeg toe weer misdaad.
Hy het gesê hy weet nie hoe om buite die tronk te leef nie!
Hy het sekuriteit in gevangenskap gevind!
Net so is dit baie dikwels vir mense makliker
om aan uiterlike godsdienstige reëls vas te hou,
as om God in vryheid en verantwoordelikheid te dien,
onder leiding van die Heilige Gees.
Dit is die rede waarom sommige Christene in Galasië
liewer onder die wette van Moses wou lewe,
selfs al was hulle in Christus daarvan vrygemaak!
Dit was vir hulle gemakliker as die uitdaging van ware Christenwees.
Daarom skryf Paulus aan hulle in Galasiërs 3:3:
“Julle het met die Gees begin,
wil julle nou in eie krag eindig.”
Baie Christene wil vandag nog, soos die Galasiërs,
terugval op die sekuriteit wat hulle in allerhande wette kry.
Dit skep egter net ‘n uiterlike skyn van vroomheid.
Dit is nie die Evangelie van Jesus Christus nie.
Mense het lang lyste van “moets en moenies”,
in plaas van ‘n lewende verhouding met die Here Jesus.
Redding kom slegs deur God se genade.
Jou hele lewe is dan bewys van dankbaarheid,
vir jou verlossing in Christus.
“Ek verwerp nie die genade van God nie.
As ‘n mens vrygespreek kon word op grond daarvan
dat Hy die wet onderhou,
sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het.”
Gal. 2:21.
Ernest