“Julle moet die Here met ontsag dien,
Hom met vrees en bewing toejuig”
Psalm 2:11 is nie maar net ‘n Ou Testament teks nie.
Baie mense sê “ja dit staan in die Ou Testament”,
en daarom dink hulle dit is nou nie meer geldig nie.
Die Almagtige Vader wil hê dat ons Hom Vader moet noem,
en Hy nooi ons ook uit om met vrymoedigheid
in sy teenwoordigheid te kom.
Maar ons mag nooit ons eerbied vir die Here God verloor nie.
Die Ou- en Nuwe Testament beklemtoon dit.
Watter boek in die Nuwe Testament
verkondig dit juis duideliker as Openbaring!
In Eksodus 19 gebeur sekere dinge,
juis om die heiligheid van God te beklemtoon.
‘n Groot vuur breek uit bo-op die berg.
Oorverdowende donderslae weerklink.
Weerligstrale kom uit die hemel.
Die hele berg bewe voor die volk.
Trompetgeskal klink al harder en harder.
En dan praat die Here met Moses.
Die klank van sy stem het die volk met eerbied vervul.
Ook al is Hy ons liefdevolle Vader in Jesus Christus,
ook al kan ons Hom aanspreek as Abba Vader,
is hy onmeetlik groot en heilig.
En ons is so klein.
Ware aanbidding erken dat God alleen
waardig is om aanbid te word!
Ernest