Dikwels word hierdie woorde van Habakuk gesing.
Dit is een van die bekende liedere van ons tyd.
Word dit bedoel wat ons sing?

Ons kan regtig deur moeilike tye gaan.
Ons wonder soms; wáár is die Here in dit alles?
Dit lyk soms of ongeregtigheid net eenvoudig oorneem.
Wáár is God?
Habakuk het met hierdie probleem geworstel.
Hy aanskou Israel se geestelike en morele agteruitgang.
Dit het hom baie bekommer.
Maar God se reaksie daarop ontstel hom nog méér!
God het besluit om die Babiloniërs te gebruik om sy volk te straf!
Habakuk kan God se optrede gladnie verstaan nie!

Maar wat gebeur?
Habakuk kies om hom in die Here te verbly.
Hy skryf in Habakuk 3:18:
“Nogtans sal ek in die Here jubel,
sal ek juig in God my Redder.”
Al kan hy nie verstaan nie, kan hy jubel en juig,
want hy het geleer om op God te vertrou,
op God se wysheid en geregtigheid.
Hy het geen vooruitsig hoe Israel die krisis sou oorkom nie.
Maar hy vertrou op God te midde van ongeregtigheid,
lyding en verlies.

Deur geloof sou hy volhard.
Met hierdie soort geloof en vertroue op God,
kom vreugde en vrede,
wat jou nogtans in die Here laat jubel en juig,
as jou Redder!

Ernest